Ons Storie
Twee harte, een reis
Van Somerset-Wes tot Swellendam — via Luxembourg, Venetië en 'n olifant.
Die Begin
Hoe ons ontmoet het
In Mei 2021 trek Jacolene Luxembourg toe vir 'n werksgeleentheid — heeltemal onbewus dat haar lewe binnekort 'n onverwante draai sou maak. Op 22 Oktober 2021 kruis ons paaie by Schalk en Ginelle se troue in Somerset-Wes. Ons kuier, lag en gesels die hele aand… en aan die einde van die trou-naweek besef ons albei: hier is iets spesiaal. Maar daar was een "klein" probleem: ons bly 12,490 km van mekaar af. Wat is die kans dat ons mekaar ooit weer gaan sien?
Die Eerste Afspraak
Die eerste afspraak
Twee dae later gebeur die onmoontlike. 'n Visa-probleem by Kaapstad-lughawe stuur Jacolene onverwags Johannesburg toe — en skielik kry ons 'n tweede kans. Op 26 Oktober 2021 gaan ons op 'n "date" by 'n steak restaurant waarvan nie een van ons die naam kan onthou nie… maar die gevoel van daardie aand het ons nooit vergeet nie. Die probleem? Ons bly steeds aan die ander kant van die wêreld van mekaar.
Die Reis
Ons Reis Saam
Henning kuier vir die eerste keer in Bonnievale
Eerste Botswana-trip saam, en ons eerste troue as "net vriende"
Henning besoek Luxembourg; ons toer na Champagne, Brussels, Amsterdam, Hamburg, ski in die Franse Alpe, Parys, Geneva en deur Luxembourg
Eerste solo kamptrip in die Kruger
Ons koop ons eerste tent saam vir die Oranje-roei — hier besef ons ons wil hierdie laat werk
Die besluit: ons toekoms is in Suid-Afrika, in Johannesburg
Henning vra Jacolene om sy meisie te wees op 'n gondola in Venetië met sonsondergang en 'n gondolier wat hulle serenade
Europese somer: Venice, Griekeland, F1, Burgundy, Lake Como, Monaco, Rome, Marseilles, Nice, CERN en Vienna
Vir die eerste keer in 3 jaar is ons in dieselfde land én stad
Droom-overlander trip deur Namibië, Zambië, Zimbabwe en Botswana
Lesotho-toer — nog 'n bucket list item afgemerk
Die verlowing: 'n dag saam met olifante by Hartbeespoort — 'n olifant wat die ring aangee. Die gondola het 'n waardige mededinger gekry.
Die Groot Vraag
Die Verlowing
Henning het 'n hele dag uitgereël — olifante voer, borsel, stap en 'n boswandeling. Al het Jacolene hom vir weke gegrill oor die "ontbrekende ring", het sy dit glad nie verwag nie. Aan die einde van die dag, met 'n olifant wat waak hou én die ring aangee, vra Henning die groot vraag. Dit was perfek. Onverwags. En so ons.
Selfs die ring is spesiaal — Ouma Sophia se diamant van haar trouringetjie, omring deur kleurvolle steentjies vir Henning se Sparkle Muffin.
Aan ons gaste
Ons is ongelooflik opgewonde om hierdie spesiale naweek saam met julle te deel. Julle is deel van ons storie — elkeen van julle het op een of ander manier 'n rol gespeel in hoe ons hier uitgekom het.